Sunday, 26 November 2006

Louis haak die knoop deur!

Wie sou nou ooit kon dink dat Louis voor die kansel sal beland!? Louis en Elsabe is op 25 November 2006 getroud. Baie geluk julle!





Sunday, 19 November 2006

Reunie 17 - 19 Nov 2006

Wat 'n ongelooflike naweek was die 17-19 November 2006 nie!! Baie dankie vir almal wat deel was om ons reunie naweek so 'n sukses te maak.

Vandat ons Vrydagmiddag daar aangekom het, (almal gelukkig veilig, al moes sommige mense teen 10km/h om 'n spesifieke draai!) het die 10 jaar weggeval en is daar heerlik gekuier. Gevoel of ons mekaar net ‘n week laas gesien het. En almal is maar presies dieselfde. Hier en daar ‘n groter pens en bietjie minder hare, maar dis maar die tekens van die tyd.

Om 'n vuurtjie het ons weer die goed beleef wat die 12 jaar op skool so merkwaardig gemaak het… Van Dolf wat ons vertel het hoe jy 'n springhaas jaag as dit skielik pikdonker om jou is. (Om dan nie te praat van die draad wat baie nader is as wat hy gedink het nie!!) Hennie, Berno en Herman het ons vermaak met hulle houtwerk-praatjies en Pof en Louis sal nie die pakslae vergeet wat "Juf Ilse" hul laat kry het nadat 'n sekere reptiel sy kop met 'n liniaal verloor het nie!!

Saterdagoggend is in 'n oogwink verby tussen foto's kyk en 'n heerlike 'brunch'. As daar nou een ding is van die naweek wat nie kan verbeter was dit die kos! Pof, dit was net vir jou… En toe verbaas Cecile en Esma ons! Wie sou nou kon dink hul eerste in die rivier om te “skinny dip”??? En dan nooi hul nog die ouens uit met gewaagde fotos… Hoe kan mens dit nou weerstaan? Daarna was dit net als regkry om die rugby (waaroor mens nie eintlik praat nie) op die dorp te gaan kyk en die aand het ons vleis gebraai en die kuier voortgesit. Herman moes terug plaas toe en het ongelukkig teenspoed gehad toe sy motor op 'n onverklaarbare wyse in die lug gestaan het - verder was daar geen ongelukke om te rapporteer nie!!

Om die naweek af te sluit, het ons saam die erediens bygewoon en daarna by die skoolsaal 'n koppie tee gaan drink en mekaar gegroet… tot die volgende keer!!

Reunie fotos

Hier is die fotos nou uiteindelik! Wat 'n naweek!